ALGEMEEN
1. BENODIGDHEDE VIR KLEUTERSKOOL
Die volgende items moet asseblief op die eerste skooldag saamgestuur word:
- Wet wipes
- Tissues
- Vloeibare handseep
- 1 Pak pleisters
- Legkaart: Gr. RRR – 6 tot 24 stuk
Gr. RR – 24 tot 60 stuk
Gr. R – 60 tot 100 stuk
2. SKOOLTYE
Die eerste skoolweek is die skooltye vir kleuters as volg: 07:45 – 12:00. Normale skooltye is vanaf 08:00 – 13:00. Die skoolprogram begin reeds om 08:00 en kleuters moet asseblief betyds wees. Indien moontlik moet u asseblief nie die kinders voor 13:00 kom afhaal nie. Daar is ‘n wagklas beskikbaar tot 13:30. Aan die einde van die kwartaal sluit die skool om 10:00.
3. SEKURITEIT
Reëlings vir toegang tot Kleuterskool
Die hekke by die kleuterskool sal oop wees vanaf 06:50 – 08:00 soggens en dan weer om 12:45 – 13:30 in die middae. Indien u, u kleuter vroeër wil kom haal, reël vroegtydig met die klasonderwyseres of skakel die kantoor by 011 893 – 2024/5.
4. VERVERSINGS
Kospakkies
Elke dag begin met ‘n goeie ontbyt tuis. Voorsien u kleuter asseblief elke dag van ‘n gesonde kospakkie wat ‘n broodjie insluit. Koeldrank moet in ‘n sportbottel (bv. Oros-bottel) gestuur word. Geen gaskoeldrank nie. Geen lekkergoed word in die kosblikke toegelaat nie, slegs op Vrydae.
Snoepie
Die skool beskik oor ‘n snoepwinkel waar u kleuter ‘n broodjie kan koop. Vrydae sal die kleuters die geleentheid kry om lekkers te koop. Slegs R10.00/ R20.00 vir lekkergoed op Vrydae asseblief. (Let wel – snoepie vervang nie die kleuter se kospakkie nie).
Verjaarsdagpartytjies
Wanneer u kleuter verjaar en u by die geleentheid iets te ete wil saamstuur, versoek ons asseblief die volgende:
Ons ondervinding is dat die kleuters met verjaardagkoek mors. Stuur asseblief slegs of partytjiepakkies of kolwyntjies (cupcakes).
5. KLERE
Ons het ‘n klerebank by die kleuterskool wat kledingstukke oud en soos – nuut verkoop teen R20.00 elk (somersdrag) en R30.00 elk (wintersdrag). Die kleuterskoolklere is beskikbaar by Peephole (Tel: 011 892 – 4060) te Markstraat, Boksburg. Die somersdrag bestaan uit ‘n swart en blou T-hemp met die Gr R – logo op en ‘n swart kortbroek. Die kleuterskool T-hemp is beskikbaar by die kleuterskool self teen R120 per hemp, enige swart broek is toelaatbaar. Die wintersdrag bestaan uit ‘n sweetpak en ‘n swart langmouhemp. Maak asseblief seker dat alle artikels (ook skoene en kouse) duidelik gemerk is. Gr. RRR kleuters moet ‘n ekstra stel klere en onderklere in hul tasse hê.
6. KOMMUNIKASIE
Personeel
U kan personeel via die kantoor kontak, indien u ‘n afspraak wil maak om die onderwyseres te sien.
Omsendbriewe
U sal maandeliks ‘n Kleuterskoolnuusbrief ontvang waarin die aktiwiteite en belangrike datums vir die maand aan u deurgegee sal word.